Search form

Hooglied 3

Het julle die man gesien vir wie ek lief is?

1Sy sê: “Toe ek in my bed soek na die man

vir wie ek lief is,

toe ek hom soek in die nag,

het ek hom nie gekry nie.

2Ek het gesê ek wil opstaan

en in die stad rondloop

op die strate en die *oop stukke grond,

ek wil soek na die man vir wie ek lief is.

Ek het na hom gesoek,

maar ek het hom nie gekry nie.

3Die polisie het my daar gekry.

Ek het vir hulle gevra:

‘Het julle die man gesien vir wie ek lief is?’

4Toe ek by hulle verbygeloop het,

het ek die man gekry vir wie ek lief is.

Ek het hom vasgehou, ek het hom nie gelos nie

totdat ek hom na my ma se huis gebring het,

na die kamer waar ek gebore is.

5Vroue van Jerusalem, julle moet vir my belowe,

en die *gaselle en die takbokke in die veld

moet die *getuies wees,

julle moet belowe dat julle ons nie sal wakker maak

en nie sal pla nie.

Ons is lief vir mekaar en ons sal self besluit

wat om te doen.”

Julle moet kom kyk na koning Salomo

6Hy sê: “Wie is sy wat daar uit die woestyn kom

soos ’n rookwolk?

’n Mens kan die *mirre en die *wierook ruik,

en al die goed wat lekker ruik

wat die *handelaars verkoop.

7Kyk, dit is die dra-stoel van koning Salomo!

Daar is 60 spesiale manne rondom die dra-stoel,

dit is 60 van die spesiale manne van Israel.

8Elke man het ’n swaard, hy weet hoe om oorlog te maak,

elke man dra sy swaard langs sy heup,

elke man is gereed vir die gevaarlike dinge in die nag.

9Koning Salomo het sy *troon laat maak

van hout uit die Libanon-berg.

10Die pote van die troon is van silwer,

die rug is van goud,

en die kussing is van pers wol.

Die vroue van Jerusalem het die kussing *geborduur,

want hulle is lief vir die koning.

11Vroue van *Sion, julle moet kom kyk na koning Salomo,

hy dra die *kroon wat sy ma op sy kop gesit het

die dag toe hy getrou het, die dag toe hy baie bly was.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index