Search form

DEUTERONOMIUM 5

1Moses het die hele volk bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Israeliete, luister na die voorskrifte en die bepalings wat ek vandag hier in julle teenwoordigheid aankondig. Julle moet dit leer, dit gehoorsaam en daarvolgens lewe. 2Die Here ons God het by Horeb 'n verbond met ons gesluit. 3Dit is nie ons voorvaders met wie Hy hierdie verbond gesluit het nie, maar ons, ons almal wat hier is en nou lewe. 4Ja, met julle persoonlik het die Here op die berg uit die vuur uit gepraat. 5Ek het destyds tussen die Here en julle gestaan om die gebod van die Here aan julle deur te gee, want julle was bang vir die vuur en julle het nie teen die berg uitgeklim nie.

“Die Here het gesê:

6“ ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 7Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

8“ ‘Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 9Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 10maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

11“ ‘Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal dié een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

12“ ‘Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die Here jou God jou beveel het. 13Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 14maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of jou bees of jou donkie of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie, sodat jou werksmense kan rus soos jy. 15Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte 'n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou.

16“ ‘Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy 'n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee.

17“ ‘Jy mag nie moord pleeg nie.

18“ ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

19“ ‘Jy mag nie steel nie.

20“ ‘Jy mag nie vals teen 'n ander getuig nie.

21“ ‘Jy mag nie iemand anders se vrou begeer nie. Jy mag nie sy huis begeer nie, ook nie sy grond, sy slaaf of slavin, sy bees of donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.’

22“Die Here het by die berg al hierdie gebooie duidelik hoorbaar aan julle hele gemeente gegee, uit die vuur en die stikdonker wolk uit, en toe het Hy stilgebly. Daarna het Hy dit op twee plat klippe geskryf en dit vir my gegee.”

Die volk vra Móses moet liewer met hulle praat

(Vgl. Eks. 20:18-21)

23“Toe julle die stem uit die donkerte uit gehoor het terwyl die berg gebrand het, het al julle stamhoofde en leiers na my toe gekom 24en gesê: ‘Die Here ons God het ons sy mag en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur uit gehoor. Vandag het ons ondervind dat God met mense praat, en hulle bly lewe. 25Maar as ons weer die stem van die Here ons God hoor, sal ons sterf, want hierdie groot vuur sal ons verteer. Waarom moet ons die gevaar loop om te sterf? 26Watter mens het die stem van die lewende God wat uit die vuur uit praat, gehoor soos ons en bly lewe? 27Gaan jy nader en luister na wat die Here ons God sê, dan kan jy alles wat Hy vir jou sê, vir ons vertel en ons sal dit gehoorsaam en daarvolgens lewe.’

28“Toe die Here hoor wat julle vir my sê, het Hy vir my gesê: Ek het gehoor wat hierdie volk vir jou gesê het. Wat hulle gesê het, is goed. 29Mag hulle altyd soveel eerbied vir My hê en al my gebooie gehoorsaam sodat dit altyd goed kan gaan met hulle en hulle nageslag. 30Gaan sê vir hulle hulle moet teruggaan na hulle tente toe. 31Maar jy moet hier by My kom staan. Ek wil die hele wet vir jou gee, die voorskrifte en die bepalings wat jy vir hulle moet leer, en waarvolgens hulle moet lewe in die land wat Ek vir hulle gee om te besit. 32Julle moet nougeset doen wat die Here julle God julle beveel het. Julle moet nie in enige opsig daarvan afwyk nie. 33Bly op die pad wat die Here julle God vir julle aangewys het, sodat julle kan bly lewe en voorspoedig kan wees en lank kan woon in die land wat julle in besit sal neem.”

Afrikaans 1983

©1983, 1992 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index