Search form

LEVITIKUS 13

Oor velsiektes waardeur 'n persoon onrein gemaak word

1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Wanneer iemand êrens aan sy lyf 'n swelsel of 'n uitslag of 'n seer het wat dalk kan ontwikkel in 'n velsiekte wat hom onrein kan maak, moet hy na Aäron of een van die Aäronitiese priesters toe gebring word. 3Die priester moet dan die seerplek ondersoek. As die hare daarop wit geword het en dit lyk of die ontsteking dieper is as die vel, is dit 'n velsiekte waardeur die persoon onrein gemaak word. Die priester wat dit ondersoek het, moet dan die persoon onrein verklaar. 4Maar as die seer 'n ligte kleur het en dit lyk of dit nie dieper as die vel is nie en die hare daarop het nie wit geword nie, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder. 5Op die sewende dag moet die priester die persoon weer ondersoek. As daar na die priester se mening geen verandering ingetree het nie en die ontsteking het nie versprei in die vel nie, moet hy die persoon nog 'n week afsonder. 6Op die sewende dag moet die priester die persoon dan weer ondersoek. As die ontsteking opgeklaar het en nie verder versprei het in die vel nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Dit is dan 'n onskadelike uitslag. Nadat hy sy klere gewas het, sal hy rein wees. 7As die uitslag egter verder versprei nadat die priester hom ondersoek en rein verklaar het, moet hy weer na die priester toe gaan vir 'n ondersoek. 8As die priester merk dat die uitslag versprei het, moet hy die persoon onrein verklaar. Dit is dan 'n velsiekte waardeur hy onrein gemaak word.

9“Iemand wat vermoedelik 'n velsiekte het wat hom onrein kan maak, moet na die priester toe gebring word. 10Die priester moet hom dan ondersoek.

“Al is daar op die vel net 'n enkele wit seerplek wat die hare laat wit word en wat oop en rou is, 11het die persoon alreeds 'n velsiekte wat hom onrein maak. Die priester moet die persoon onrein verklaar. Die priester hoef die persoon nie vir 'n tyd af te sonder nie, want hy is klaar onrein.

12“Maar as iemand 'n velsiekte het wat so versprei het dat dit vir die priester lyk of dit die hele lyf bedek, 13moet die priester hom noukeurig ondersoek.

“Al is die velsiekte oor sy hele lyf versprei, maar daar is geen teken van ontsteking nie, is hy rein. 14Maar wanneer daar êrens aan hom 'n rou seer verskyn, is hy onrein.

15“Wanneer die priester by 'n ondersoek 'n rou seer ontdek, moet hy die persoon onrein verklaar. 'n Rou seer beteken onreinheid, 'n velsiekte waardeur die persoon onrein gemaak word. 16As die rou seer egter genees en 'n wit roof vorm, moet hy weer na die priester toe gaan. 17Die priester moet dit ondersoek. As die seerplek inderdaad 'n wit roof gevorm het, moet die priester die persoon rein verklaar. Hy is rein.

18“As iemand aan sy lyf 'n verswering gehad het wat genees het, 19en waar die verswering was, kom daar 'n wit swelsel of 'n rooierige seer, moet dit aan die priester gewys word. 20Die priester moet dit ondersoek. As dit lyk of die kwaad onder die vel is en die hare daarop het wit geword, moet die priester die persoon onrein verklaar. Deur die verswering het daar 'n velsiekte ontstaan wat hom onrein maak.

21“Maar as die priester die plek ondersoek en sien dat die hare daarop nie wit geword het nie, dat die kwaad nie onder die vel is nie en dat die ontsteking opgeklaar het, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder. 22As die kwaad dan verder versprei in die vel, moet die priester die persoon onrein verklaar. Hy het 'n seerplek wat hom onrein maak. 23Maar as die plek onverander bly en die ontsteking het nie versprei nie, is dit maar net die litteken van die verswering. Die priester kan hom dan rein verklaar.

24“Wanneer iemand 'n brandwond opgedoen het en die rou wond vorm 'n rooierige of 'n wit seer, 25moet die priester die plek ondersoek. As die hare op die seer wit geword het en die seer lyk dieper as die vel, het deur die brandwond 'n velsiekte ontstaan waardeur die persoon onrein gemaak word. Die priester moet die persoon onrein verklaar. Hy het 'n velsiekte wat hom onrein maak. 26As die priester by sy ondersoek egter vind dat die hare op die seer nie wit geword het nie, dat die seer nie dieper is as die vel nie en dat die ontsteking opgeklaar het, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder. 27Op die sewende dag moet die priester die persoon weer ondersoek. As die kwaad verder versprei het in die vel, moet die priester die persoon onrein verklaar. Dit is 'n velsiekte wat hom onrein maak. 28Maar as die plek onverander bly en die ontsteking het nie in die vel versprei nie maar opgeklaar, is dit die swelsel van die brandwond. Die priester moet hom dan rein verklaar, want dit is maar net die merk van die brandwond.

29“Wanneer daar 'n seerplek is aan die kop van 'n man of 'n vrou of in die baard van 'n man, 30moet die priester dit ondersoek. As dit lyk of die kwaad dieper is as die vel en as die hare daarop geel en donserig is, moet die priester die persoon onrein verklaar. Dit is 'n skurfsiekte, 'n velsiekte aan die kop of gesig, waardeur die persoon onrein gemaak word. 31As die priester egter sien dat die skurfsiekte nie dieper is as die vel nie, maar dat die hare daarop tog nie 'n gesonde kleur het nie, moet hy die persoon met die skurfsiekte 'n week lank afsonder. 32Op die sewende dag moet die priester weer die seerplek ondersoek. As die skurfsiekte nie versprei het nie, die hare daarop nie geel is nie en dit nie dieper lyk as die vel nie, 33moet al die hare afgeskeer word behalwe dié waar die skurfsiekte is. Daarna moet die priester die persoon nog 'n week afsonder. 34Op die sewende dag moet die priester die skurfsiekte weer ondersoek. As dit nie versprei het in die vel nie en dit lyk nie dieper as die vel nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Nadat hy sy klere gewas het, sal hy rein wees. 35As daar egter enige verspreiding van die skurfsiekte voorkom nadat die persoon rein verklaar is, 36moet die priester hom weer ondersoek. As dit duidelik is dat die skurfsiekte versprei het op die vel, hoef die priester nie eens te kyk of daar geel hare is nie. Die persoon is onrein. 37As die priester later sien dat die skurfsiekte nie versprei het nie en dat daar gesonde hare op groei, is dit 'n teken dat die plek genees het en dat die persoon rein is. Die priester moet hom dan ook rein verklaar.

38“As 'n man of 'n vrou êrens aan die lyf wit vlekke het, 39moet die priester dit ondersoek. As die vlekke op die vel bleekwit vertoon, is dit gewone velverwitting waaraan die persoon ly. Hy is rein.

40“Iemand wie se hare uitval sodat sy kop kaal word, is nie daarvan onrein nie. 41Ook wanneer net die hare op sy voorkop uitval, sodat sy kop daar kaal word, is hy nie onrein nie. 42As daar egter 'n rooierige ontsteekte plek verskyn waar sy kop kaal raak, is dit 'n teken dat hy aan sy kopvel 'n velsiekte het wat hom dalk onrein maak. 43Die priester moet die persoon dan ondersoek. As die simptome dieselfde is as dié van 'n velsiekte aan die lyf, wat 'n mens onrein maak, naamlik 'n rooierige swelsel, 44het die man inderdaad so 'n velsiekte. Hy is onrein en die priester moet nie huiwer om die man onrein te verklaar nie. Die kwaad is in sy kopvel.

45“Iemand wat 'n velsiekte het wat hom onrein maak, moet geskeurde klere dra en sy hare onversorg laat. Hy moet ook die onderste deel van sy gesig bedek en uitroep: ‘Onrein! Onrein!’ 46Hy bly onrein solank hy die siekte het. Hy moet dan ook in afsondering lewe en buite die kampplek bly.”

Oor skimmel wat onrein maak

47“As daar 'n kol skimmel is op 'n kledingstuk, 48of op garing of materiaal van linne of wol, of op vel of enige velartikel, 49en die skimmel het 'n groenerige of rooierige kleur, kan dit skadelike skimmel wees, en moet dit aan die priester gewys word. 50Die priester moet die kol ondersoek en die artikel met die skimmel 'n week lank eenkant sit. 51Op die sewende dag moet hy dit weer ondersoek. As die kol op die kledingstuk of garing of materiaal of velartikel groter geword het, is dit skadelike skimmel. Dit is onrein. 52Die ding waarop die kol skadelike skimmel is, die wol, linne of vel, moet sonder meer in die vuur gegooi en verbrand word. 53Maar as die priester sien dat die kol nie groter geword het nie, 54moet hy beveel dat die artikel met die skimmel gewas word. Daarna moet hy dit nog 'n week eenkant sit. 55As die priester dan, nadat dit so behandel is, sien dat die kleur van die kol nie verander het nie, is dit onrein, ook al het die kol nie groter geword nie. Dit moet verbrand word. Dit maak nie saak of die bederfde plek aan die voor- of aan die agterkant is nie. 56As die priester egter sien dat die kol dowwer van kleur is 'n week nadat die artikel gewas is, moet hy die kol uitskeur uit die kledingstuk, die vel, die garing of die materiaal. 57As daar dan weer 'n kol verskyn, is dit 'n teken dat die skimmel nog daar is. So 'n artikel moet verbrand word. 58'n Kledingstuk, garing, materiaal of 'n velartikel waarvan die skimmel verdwyn het nadat dit gewas is, moet 'n tweede keer gewas word, dan is dit rein.”

59Die voorafgaande is die voorskrifte waarvolgens bepaal moet word of klere, garing en materiaal van wol of linne, en velartikels rein of onrein is wanneer daar skimmel op is.

Afrikaans 1983

©1983, 1992 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index