Search form

LEVITIKUS 25

Sabbatsjaar en hersteljaar

1Die Here het vir Moses by Sinaiberg gesê: 2“Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, moet daar vir die land rustye wees tot eer van die Here: 3ses jaar kan julle die lande saai en die wingerde snoei en die opbrengs oes, 4maar die sewende jaar moet die hele land 'n rustyd hê, 'n sabbatsjaar tot eer van die Here. Dan mag julle niks saai nie en ook nie die wingerde snoei nie. 5Julle mag selfs nie die opslaggraan of die druiwetrosse van die ongesnoeide wingerde afoes nie. Dit moet vir die land 'n jaar van algehele rus wees. 6-7Dit moet vir julle 'n jaar van algehele rus wees. Julle, julle slawe, julle slavinne, julle dagloners en die bywoners in julle land sowel as julle diere en die wild moet dan leef van wat die veld oplewer.

8“Tel sewe sabbatsjare af, sewe maal sewe jaar, dit wil sê nege en veertig jaar. 9Laat dan ramshorings blaas op die tiende van die sewende maand op die versoendag. Die ramshorings is die teken dat almal in die land 10die jaar van die vyftigste landbouseisoen op 'n besondere wyse aan die Here moet wy. Daar moet 'n landswye afskrywing van skuld geproklameer word. Dit moet vir almal 'n hersteljaar wees: elke Israeliet moet sy grond terugkry en mag na sy familie toe teruggaan. 11Hierdie vyftigste landbouseisoen moet julle hersteljaar wees. Julle mag nie saai nie en ook nie die opslaggraan of ongesnoeide wingerde afoes nie, 12maar julle moet eet van wat die veld opgelewer het: die hersteljaar is 'n gewyde jaar.

13“In die hersteljaar moet elkeen sy grond terugkry. 14Wanneer julle grond verkoop of koop, moet julle mekaar nie uitbuit nie. 15Die koop- of verkoopprys moet bepaal word volgens die aantal oeste wat die stuk grond kan oplewer tot die volgende hersteljaar. 16As dit lank voor die volgende hersteljaar is, moet die prys hoër wees, maar as daar min jare oor is, moet die prys laer wees, want in werklikheid word alleen die opbrengs tot die volgende hersteljaar verkoop. 17Uit eerbied vir julle God mag julle mekaar nie uitbuit nie. Ek is die Here julle God.

18“Julle moet my voorskrifte nakom en my bepalings gehoorsaam. As julle dit doen, sal julle sonder sorge in die land kan woon. 19Die grond sal goeie oeste lewer, en julle sal oorgenoeg hê om te eet sodat julle sonder sorge in die land kan woon. 20Julle kan julle miskien afvra waarvan julle elke sewende jaar moet leef, aangesien julle nie mag saai of 'n oes insamel nie. 21Ek sal aan julle oorvloed gee in die sesde jaar sodat die oes groot genoeg sal wees vir drie jaar. 22Wanneer julle in die agste jaar weer saai, sal julle nog steeds die oes van die sesde jaar gebruik. Julle sal selfs genoeg hê totdat julle in die negende jaar die oes insamel.

23“Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My. 24Verder moet die reg om grond terug te koop, oral en altyd geld. 25Wanneer 'n Israeliet deur armoede verplig was om van sy grond te verkoop, moet die naaste manlike familielid dit vir die eienaar terugkoop. 26Wanneer daar nie iemand is wat dit kan terugkoop nie, kan dit gebeur dat die persoon later self genoeg geld bymekaarmaak om die grond terug te koop. 27Die aantal jare wat verloop het sedert die kooptransaksie moet dan in berekening gebring word en die oorspronklike eienaar moet die koper slegs uitbetaal vir die seisoene wat nog oor is tot die volgende hersteljaar. Die oorspronklike eienaar kan dan weer sy grond in besit neem. 28As hy egter nie genoeg geld bymekaarkry om die grond terug te koop nie, bly die koper in beheer daarvan tot die volgende hersteljaar. In die hersteljaar moet hy die grond ontruim en die oorspronklike eienaar moet dan weer sy grond in besit neem.

29“Wanneer iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, moet hy 'n volle jaar lank die reg behou om dit terug te koop. 30As hy nie binne een jaar van hierdie reg gebruik maak nie, verval sy aanspraak op die betrokke huis en word dit die wettige eiendom van die koper en sy erfgename. 'n Woonhuis in 'n ommuurde stad val dus nie terug in die hersteljaar nie. 31Woonhuise in dorpe wat nie mure om het nie, geld as deel van die platteland: die oorspronklike eienaar het die reg om dit enige tyd terug te koop, en in die hersteljaar val dit terug na hom. 32In die Levietestede het die Leviete die onvervreembare reg om woonhuise waarvan hulle die oorspronklike eienaars was, terug te koop. 33Wanneer 'n Leviet 'n huis wat hy in 'n Levietestad gekoop het, terugverkoop aan die oorspronklike eienaar wat nie 'n Leviet is nie, moet die huis in die hersteljaar terugval na die Leviet, want die huise in die Levietestede moet in Israel die eiendom van die Leviete wees. 34Die weiveld om die Levietestede mag nooit verkoop word nie, want die Leviete het 'n onvervreembare reg daarop.

35“Wanneer 'n mede-Israeliet só in die skuld raak by jou dat hy nie kan betaal nie, moet jy hom help soos jy 'n vreemdeling of 'n bywoner sou help, en hom by jou aan die lewe hou. 36Jy mag hom geen rente van enige aard laat betaal nie. Uit eerbied vir jou God moet jy jou mede-Israeliet by jou aan die lewe hou. 37As jy aan hom geld leen, moet dit dus rentevry wees, en as jy aan hom kos verskaf, moet dit teen kosprys wees. 38Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het om Kanaän aan julle te gee en om julle God te wees.

39“Wanneer 'n mede-Israeliet in jou omgewing só in die skuld raak dat hy hom aan jou verkoop as slaaf, mag jy hom nie slawewerk laat doen nie. 40Jy moet hom soos 'n dagloner of soos 'n bywoner behandel. Hy moet tot die hersteljaar in jou diens bly. 41Dan moet hy en sy afhanklikes as vry mense teruggaan na hulle familie en hulle familiegrond toe. 42Omdat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het, is hulle my dienaars. Daarom mag hulle nie as slawe aan iemand verkoop word nie. 43Uit eerbied vir julle God mag julle ook nie so 'n mede-Israeliet hard behandel nie. 44Julle moet die slawe en slavinne wat julle nodig het, by die nasies rondom julle koop. 45Julle mag ook die kinders van bywoners koop wat tydelik tussen julle woon of van bywonerfamilies wat al geslagte in die land is. Sulke slawe is julle wettige eiendom 46wat deur julle aan julle kinders bemaak kan word as besittings en wat lewenslank hulle slawe sal wees. Julle mag egter nooit van julle mede-Israeliete slawe maak nie.

47“Wanneer 'n vreemdeling of 'n bywoner in julle land ryk word, en 'n mede-Israeliet raak by so iemand in die skuld sodat hy hom as slaaf moet verkoop aan die nie-Israeliet of dié se nageslag, 48het die Israeliet die reg om vrygekoop te word. Een van sy broers 49of 'n oom of 'n neef of 'n ander manlike familielid kan hom vrykoop. As so 'n slaaf genoeg geld bymekaarkry, kan hy homself vrykoop. 50In so 'n geval moet die bedrag waarteen hy as slaaf verkoop is en die getal jare van die tyd af dat hy verkoop is tot die volgende hersteljaar toe, in berekening gebring word. Hy moet dan krediet ontvang vir die jare wat hy reeds diens gedoen het en as dagloner sy skuld afgewerk het. 51As dit lank voor die hersteljaar is, sal die vrykoopprys dus 'n groot deel van die oorspronklike verkoopprys uitmaak. 52As daar net 'n paar jaar oor is voor die hersteljaar, sal die vrykoopprys slegs 'n klein deeltjie van die oorspronklike verkoopprys wees. 53Hy het soos 'n dagloner jaar na jaar vir die nie-Israeliet gewerk. Jy moet sorg dat hy nie hard behandel word nie. 54As hy nie voor die tyd vrygekoop word nie, moet hy en sy afhanklikes vrygelaat word in die hersteljaar. 55Dit moet gedoen word omdat die Israeliete my dienaars is. Hulle is my dienaars omdat Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.”

Afrikaans 1983

©1983, 1992 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index