Search form

NUMERI 9

Die tweede paasfees

1Die Here het met Moses gepraat. Dit was in die Sinaiwoestyn, die eerste maand van die tweede jaar ná die uittog uit Egipte. Hy het vir hom gesê: 2-3“Op die vasgestelde tyd, teen sonsondergang, op die veertiende dag van hierdie maand, moet die Israeliete die paasfees vier. Julle moet dit doen op die vasgestelde tyd volgens die voorskrifte en bepalings wat daarvoor geld.”

4Moses het die Israeliete toe opdrag gegee om die paasfees te vier. 5Hulle het dit gedoen in die Sinaiwoestyn teen sonsondergang op die veertiende dag van die eerste maand, presies soos die Here vir Moses beveel het. So het die Israeliete gedoen.

6Maar daar was persone wat die paasfees nie op daardie dag kon vier nie omdat hulle aan 'n lyk geraak het en dus onrein was. Hierdie manne het dieselfde dag nog na Moses en Aäron toe gekom en vir hulle gesê: 7“Ons is onrein, want ons het aan 'n lyk geraak, maar waarom word ons daarvan weerhou om op die bestemde tyd saam met die ander Israeliete 'n offergawe aan die Here te bring?”

8Moses het toe vir hulle gesê: “Wag tot ek verneem het wat die Here oor julle beveel.”

9Die Here het toe vir Moses gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: 10As een van julle of julle nakomelinge deur 'n lyk onrein is, of op 'n ver reis is, mag hy nogtans die paasfees vir die Here vier. 11Maar dan moet hulle dit in die tweede maand, op die veertiende van die maand, teen sonsondergang vier. Hulle moet die paaslam eet saam met die ongesuurde brood en bitter kruie. 12Hulle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie en hulle mag ook geen been van die lam breek nie. Hulle moet die paasfees stiptelik volgens al sy voorskrifte vier. 13Maar as 'n persoon rein is en nie op reis is nie en nogtans in gebreke bly om die paasfees op die gewone tyd te vier, moet hy van sy volksgenote afgesny word omdat hy nagelaat het om 'n offergawe op die bestemde tyd aan die Here te bring. Dié man moet die gevolge van sy sonde dra.

14“As 'n vreemdeling wat by julle woon, die paasfees vir die Here wil vier, moet hy dit volgens die bestaande voorskrifte en bepalings doen. Een en dieselfde voorskrif geld vir julle almal: vir die vreemdeling en vir die landsburger.”

Die wolk bo die tabernakel

15Die dag toe die tabernakel, die tent met die getuienis, opgerig is, het 'n wolk dit oordek. In die aand het die wolk oor die tabernakel soos vuur geword en dit het so gebly tot die môre toe. 16So was dit deurentyd. Die wolk het die tabernakel oordek en snags was dit soos vuur. 17Elke keer nadat die wolk van die tent af opgetrek het, het die Israeliete weggetrek, en op die plek waar die wolk afkom, daar het die Israeliete kamp opgeslaan. 18Op bevel van die Here het die Israeliete weggetrek, en op sy bevel het hulle kamp opgeslaan; gedurende die hele tyd dat die wolk op die tabernakel gerus het, het hulle in die kamp gebly. 19Wanneer die wolk 'n geruime tyd op die tabernakel gerus het, het die Israeliete die diens van die Here waargeneem en nie weggetrek nie. 20Soms het die wolk net 'n paar dae op die tabernakel gerus. Wat die geval ook al was, op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op sý bevel het hulle weggetrek. 21Soms was die wolk net van die aand af tot die volgende môre toe daar, en as dit dan in die môre optrek, het die volk weggetrek. Of dit bedags of snags was, as die wolk optrek, het hulle weggetrek. 22As die wolk 'n paar dae of 'n maand of 'n jaar of langer op die tabernakel rus, het die Israeliete in die kamp gebly en nie weggetrek nie, maar sodra dit optrek, het hulle weggetrek. 23Op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op sy bevel het hulle weggetrek. Hulle het die diens van die Here onderhou soos die Here deur middel van Moses beveel het.

Afrikaans 1983

©1983, 1992 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index